Larami en Otto Meyer het vroeër vanmiddag die verrassing van hulle lewe gekry nadat Groot Fm 90.50 se omgeeprojek, Jou mense, my mense, vliegtuigkaartjies na dié moederstad en kaartjies vir onder meer ‘n besoek aan Tafelberg aan hulle oorhandig het. Dié oorhandiging is tydens ‘n omgee-insetsel gedoen en nie net Larami en Otto se trane het geloop nie, maar ook die wat by die opname betrokke was.
Annette Reed, hoof uitvoerende beampte van Centurion Hospice, het ook ‘n volgepropte koevert aan hulle oorhandig “waarmee die twee ‘n romantiese Kaapse-ete kan geniet,” het sy geknipoog.
“Ek kan dit nie glo nie. My droom is bewaarheid,” het Larami, wat verlede jaar Desember met ‘n raar kankerkarnisoom gediagnoseer is, gesê. “’n Besoek aan Tafelberg was op my emmerskoplys. Ek was ook nog nooit in Kaapstad nie, en op Blouberg-strand te gaan stap; sukkel-en-al gaan ‘n ervaring van ‘n leeftyd wees.”
Die paartjie sou nie op ‘n wittebrood gegaan het nie, want hulle finansies het dit nie toegelaat nie, maar die publiek se omgee stuur hulle nou op 25 Junie vir vyf dae na Kaapstad toe. Etes, verblyf, vliegtuigkaartjies, uitstappies en sakgeld ingesluit.
Centurion Hospice se paaie het in April vanjaar met dié van Larami gekruis nadat sy navraag gedoen het oor dié hospice se binnepasiënte-eenheid. “Ek het besef dat ek moontlik in ‘n hospice opgeneem moet word. En Centurion Hospice is die beste in die land.”
